LEWIES WOLF SE KLIP

Langs die pad deur Sondagskloof lê ‘n klip met ‘n interessante geskiedenis. Nou waar is dié pad? Vat jy die pad uit Stanford uit in die rigting van die Akkedisbergpas, kry jy so 5 km buite Stanford ‘n pad wat regs uitdraai.
Dié grondpad loop al in die Sondagskloof op, amper parallel aan die pad deur Akkedisberg, verby die plase Brunia, Sandy’s Glen, Vredehoek en Helderfontein totdat dit doodloop in die pad tussen Caledon en Napier(R316)
Op ‘n dag het ‘n transportryer, genaamd Lewies Swart, in die omgang bekend as Lewies Wolf, op ‘n klompie werksmense afgekom wat besig was om in Sondagskloof pad te maak met pik en graaf. Die padmakers het met ‘n yslike probleem gesit. In die middel van die pad was ‘n reuse-klip wat uit die pad moes kom, maar hoe die manne ook al plan gemaak het en op alle maniere probeer het, hulle kon daardie tamaaie stuk rots nie roer nie. Dis op dié punt dat Lewies met sy wa daar opdaag.Toe hy verneem wat hulle probleem is, het hy gesê hulle moet hom ‘n kans gee. Hy het glo by die klip gebuk en dit met brute krag manalleen uit die pad gerol. En, dié klip lê nog al die jare daar langs die pad.
Nou wie was Lewies Wolf? Louis Johannes Swart is op 10.3.1822 gebore en in Januarie 1908 op Stanford oorlede. Soos dit maar in die Overberg gegaan het, het Louis sommer Lewies geword. Toe hy 18 jaar oud is, trou hy met Maria Elizabeth Swart, die dogter van Johannes Bernardus Swart en sy vrou Lovina Catharina (néé Matthee). Maria het in die omgang bekend gestaan as Mietjie.
Lewies het grootgeword op die plaas Ratelrivier in die Overbergse Strandveld in Bredasdorp se kontrei. Dieselfde Ratelrivier wat later berug sou word vanweë die bloedmerk van ‘n hand wat hulle in jare nie doodgeverf kon kry nie. ‘n Bloedmerk teen ‘n muur as gevolg van ‘n treurspel wat hom een nag in die ou plaashuis afgespeel het. Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag wat niks met oom Lewies se familie te doen het nie. Lewies was die seun van Hans Jacob Swart, in daardie kontrei bekend as Hans Ratelrivier, oorlede op 7.5.1835 en te ruste gelê in die plaaskerkhof op Ratelrivier.
Waar oom Lewies Swart aan die bynaam Wolf gekom het, kon ek tot dusver nie uitvind nie. Hy was klaarblyklik ‘n goeie, saggeaarde mens.Tant Nellie van Dyk het my vertel hy kon glo ook so mooi bid. Wat ons wel van hom weet is dat hy ontsaglik sterk was, eintlik bomenslik sterk. Tog ‘n genade dat sulke sterk mense gewoonlik sagmoedig van aard is, want as diesulkes nog kort van humeur was, sou dit mos meermale op moord uitgeloop het.
Nadat my goeie vriend, Jan Moolman wat op Tuinplaas in Napier se wêreld grootgeword het, my vertel het van Lewies Wolf en die klip, en ek in een van dr Con de Villiers se boeke daarvan gelees het, het ek gewonder of die ding nie dalk nog langs die pad lê nie. In my soektog na die klip, kry ek die eienaar van Vredehoek, Guy Brook-Summers, se telefoonnommer in die hande en ek skakel hom. ‘n Vriendelike man. Hy sê by hom werk ‘n man, Jan Lewis, wat daar grootgeword het en hy sal weet waar die klip lê as dit nog daar is. Hy sal vir Jan vra om my te gaan wys.
Ons spreek ‘n dag af en ek en drie vriende wat ook in die klip se geskiedenis belangstel, vat die pad Vredehoek toe. En Jan Lewis neem ons reguit na die klip toe waar dit langs die pad lê. Heel waarskynlik op die plek waar Lewies Wolf dit neergesit het.
Jan Moolman het vertel dat die woorde ”Lewies Wolf se Klip” aan die oorkant van die pad teen die rotse geskryf was. Jan Lewis het vir my uitgewys waar die woorde in rooi verf teen die nabank rotsplaat geskryf was. Toe die pad later breër gemaak is, het die letters ongelukkig in die slag gebly, maar die klip het bly lê. Guy Brook-Summers en Jan van Dyk van Hartebeeskloof, wat vroeër Vredehoek besit het, onthou ook nog die woorde teen die wal.
Wanneer sou dit wees dat oom Lewies die klip gerol het? Ons weet nie meer nie, maar kom ons aanvaar dat dit in die fleur van sy krag was. Hy het gelewe tussen 1822 en 1908. Sou dit in die omgewing van 1850 kon wees? Hy het darem al teen daardie tyd blykbaar sy eie wa gehad. Maar wanneer dit ookal was, hy moes ontsettend sterk gewees het, ‘n ware Simson, want hoe hy daardie rots beweeg het, gaan my verstand te bowe. Ons het die ding gemeet. Dis ‘n langwerpige klip. In sy lengte is die omtrek 4 meter en in die breedte is die omtrek 2,4 meter.
Daar is nog verskeie ander staaltjies oor Lewies Wolf se krag in ons Overbergse wêreld in omloop. So het dit byvoorbeeld gebeur dat Lewies op ‘n dag op pad is teen die ou Sir Lowry’s-pas af met sy transportwa om ‘n vrag by Onderklóóf ( vandag die dorpie met die niksseggende naam Sir Lowry’s-pas) te gaan aflaai. ‘n Ander wa met ‘n vrag kom die berg op, die twee waens gaan te na aan mekaar verby en die agterwiele skuif langs mekaar in, en daar staan die waens vas. Dis nou ‘n groot gemors, want hoe kry jy die wiele los?
Die ander kêrel se humeur vat vlam en hy wil sommer net baklei. Sagmoedige, sterk oom Lewies bly rustig.
Hy sê: “ Nee wag eers, man, kom ons drink nou eers rustig iets, dalk kry ons dan ‘n plan.”
Die man sê dan moet hy nou eers ‘n beker soek, maar oom Lewies sê: “Nee wat, dis nie nodig nie, maak net oop jou mond.” En hy tel die sware vat op en hy laat loop die straaltjie wyn in die man se mond en toe vat hy self ‘n paar slukke. (Party sê daar was brandewyn in daardie vat, maar dan sou die stomme man se asem mos weggeslaan het.)
Na hulle nou die versterkinkie geneem het, vra Lewies die man om die osse net so ‘n bietjie tru te stoot en hyself gaan buk by die agterwiel van die wa en met brute krag rol hy daardie vol gelaaide wa agtertoe sodat die wiel kan loskom. En toe skuif hy op sy eie die twee waens weg van mekaar af. Toe hy daarmee klaar is, sê hy vir die kêrel: “Jy het mos netnou gesê ons moet ‘n bietjie aan mekaar slaan. Ons kan dit nou maar doen.” Wyslik, omdat hy sy lewe lief gehad het, het die ander man glo gesê hulle moet dit maar los!
Nog ‘n staaltjie oor oom Lewies Wolf soos dr Con Viljee dit vertel. Lewies het die werk gekry om die kerk op Stanford se dak te dek. Hy was die dag besig op die dak toe ‘n jong ligsinnige vent daar verby kom en hard, sodat Lewies dit moet hoor, die opmerking maak: “Ek het nog nooit ‘n wolf gesien wat ‘n rietdak dek nie.” En alleen gelag.
Oom Lewies het gehoor, maar niks gesê nie, net geduldig aangegaan met sy werk. Maar die klong wou net nie end kry met sy lawwe gespottery nie. Naderhand was dit vir die geduldige sterkman darem net een te veel. Sonder om ‘n woord te sê, het hy van die dak af geklim en toe die spotter hom weer kom kry, het Lewies Swart hom met sy linkerhand voor die bors gevat en hom van sy voete af gelig, met sy regterhand oorgehaal om hom met die vuis ‘n doodslaanhou te gee. Dat dit toe dié dag nie ‘n moord afgegee het nie, was net te danke aan oom Lewies se handlanger . Dié het gesien waarop dit gaan uitloop en gekeer: “ Oubaas, Oubaas, wag Oubaas, moenie slaan nie Oubaas. Sit maar neer die klong, Oubaas, sy witbroek slaan al bruin deur.”
Oom Lewies het glo die vent so met sy linkerhand gedra en hom oor ‘n muur gaan smyt en toe met sy werk aangegaan.
Jan Roodtman van Bredasdorp vertel nog ‘n storie oor oom Lewies Wolf. Die ou mense het mos graag vinger getrek. Die man wat die ander een se middelvinger kan ooptrek is die wenner. Niemand het Lewies aangedurf nie. Sy hande was darem te groot, hy sal net jou vinger rinneweer. Eendag daag ‘n man hom toe uit om teen sy perd vinger te trek. Wolf aanvaar die uitdaging, maar hy wil darem weet wat is daar nou vir hom in as hy die stryd wen. Daar lê tien sakke koring en die man sê as Lewies wen, gee hy hom die tien sakke.
Hulle span die perd in, Lewies gaan sit aan die binnekant van ‘n deur plat op die vloer en skop met sy twee voete weerskante van die deurkosyn vas. Hulle stoot die perd tru en die sterk man haak sy middelvinger deur die ring van die swingel. Hy sê hy is reg, hulle kan maar op die perd praat laat hy trek.
Jan sê die ou mense het vertel die perd staan later op sy knieë, maar oop trek hy Lewies Wolf se vinger nie.
Jan Moolman (nou ook al 79) vertel dat hy as kind ‘n tafel met tandemerke aan die blad in sy pa se oom Flip se huis gesien het. Die ou mense het vertel die merke is daar vanaf die dag toe Lewies Swart die tafel met sy mond opgelig het.
Hoe wens ek ek kon van sy nageslag opspoor wat ons nog meer van hulle sterke ou voorvader kan vertel! Tot dusver was my soektog tevergeefs.
Christie Stodart.
2 Julie 2022
BRONNE:
C G S de Villiers: Overbergse Eergister.
C G S de Villiers: Geslagsregister van die familie Swart.
S J du Toit: The Overberg. Historical Anecdotes.
Jan Moolman,vroeër van Tuinplaas, Napier, nou Pearly Beach.
Jan Lewis, Vredehoek ,Sondagskloof.
Guy Brook-Summers, Vredehoek, Sondagskloof.
Jan van Dyk, Hartebeeskloof, Sondagskloof.
Jan Roodtman, Bredasdorp.